Jy kan Saterdagaand regmaak vir komedies en as jy lus is vir ’n lekker drama, maak seker die afstandbeheer is Sondagaand in jou hand!

Vrydag 7 Feb

Hollywood Homicide e.tv 20:30 Die welbekende aksieheld Harrison Ford span kragte saam met die hartebreker Josh Hartnett as ’n paar poliesiemanne wat die moord op ’n kletsrymgroep ondersoek. Oud en nuut, die aksie bly dieselfde – maar met ’n ekstra tikkie droë humor. Saterdag 8 Feb

Confessions Of A Shopaholic

SABC3 19:30

Impulsiewe kopies…ons almal weet hulle is moeilik om te weerstaan! As jy nie weet nie, kyk gerus na die oulike romantiese komedie oor ’n finansiële analis wat haar tjekboek, werk en haar soektog na mnr. Perfek alles op een slag probeer balanseer. Date Night e.tv 20:30 Die komiese Steve Carell en die skreeusnaakse Tina Fey speel ’n verveelde getroude paartjie wat se afspraak in ’n aksiebelaaide avontuur ontaard. Jy gaan lê soos jy lag wanneer die vaal paartjie verwar word met mense wat ’n misdadiger in die rug steek. Sondag 8 Feb

Salt

e.tv 20:00

Angelina Jolie is ’n CIA-agent wat moet vlug wanneer ’n afvallige haar daarvan beskuldig dat sy ’n Russiese spioen is. Wie sal haar glo? Byna niemand – nie eers haar manlief nie.

Silver Linings Playbook

M-Net 20:05

Bradley Cooper is ’n oud-onderwyser wat pas uit ’n psigiatriese eenheid ontslaan is en sy verhouding met sy eksvrou probeer red. Wanneer hy ’n geheimsinnige jong vrou (Jennifer Lawrence) met haar eie probleme ontmoet, raak die situasie bietjie meer ingewikkeld.