Jy kan vanaand na Ben Stiller kyk in die soort komedie/drama waarin hy gewoonlik skitter. Saterdag kan jy jou dosis van die Wayans-broers se eiesoortige tipe humor inkry en Sondag wag daar ’n “local is lekker” komedie. Nothing for Mahala

Vrydag 28 Februarie

Greenberg MNet Comedy (kanaal 104) 20:45 Ben Stiller speel ’n selfbehepte 40-jarige timmerman wat terugkeer na Los Angeles nadat hy vir jare in New York gewoon het om sy broer se huis op te pas. Hy is vasgevang in ’n groef en wil die tyd gebruik om oor sy lewe te besin. Dié fliek is ’n moet vir alle Ben Stiller-aanhangers.

Saterdag 1 Maart

Camille

SABC3 19:30 Jong liefde bly maar mooi – veral as Sienna Miller en James Franco die verliefde paartjie speel. Net ’n jammerte hul wittebroodsreis na die Niagara-watervalle gaan hul liefde tot die uiterste beproef. White Chicks e.tv 20:00 As jy lus vir die soort komedie wat jou uit jou maag sal laat lag, is die Wayans-broers se fliek net die ding! Marlon en Shawn speel polisiemanne wat twee sosiale vlinders moet beskerm – daarom trek die manne aan soos die dowwe blonde erfgename om die skurke aan te keer terwyl hul tussendeur in die Hamptons kuier.

Sondag 2 Maart

Nothing For Mahala

SABC1 20:00

Local bly maar lekker! In dié trots Suid-Afrikaanse fliek pak Thapelo Mokoena en Jamie Bartlett die wêreld van rykwordskemas wanneer ’n gewoonte-misdadiger gemeenskapdiens in ’n aftreeplek moet doen. Marius Weyers is ook hierin te sien.

White House Down

M-Net 20:05

Vergeet van elke ander fliek oor ’n president in die Withuis – dít is die enigste een wat jy moet sien. Veral vir die komediese vonk tussen Jamie Foxx en Channing Tatum, wat die president en polisieman speel wat heel toevallig op die regte plek op die regte tyd is.