The Husband's Secret

The Husband's secret

Skrywer Liane Moriarty

Uitgewer Penguin

Prys R131 by Kalahari

Punte 3 uit 5

DIS altyd lekker om skrywers uit ander lande as die gewone (Suid-Afrika, Amerika en Brittanje) te lees en soms hou ek ook van ’n lekker chick-lit-boek. Dis dié twee faktore wat my by The Husband’s Secret deur Liane Moriarty uitgebring het.

Die skrywer is Australies en haar boek speel in Sydney af, en dit het vreeslik boeiend geklink: ’n Vrou wat iets op haar solder soek, vind ’n brief van haar  toegewyde man wat aan haar gerig is en waarop staan: “Maak slegs oop in geval van my dood.”

Die boek handel oor drie vroue. Cecilia is die perfekte eggenoot en ma (en een van Australië se top-verkopers van Tupperware) en sy is die een wat die brief kry, geskryf deur John-Paul, met wie sy al 15 jaar getroud is.

Dan is daar die bemarkingsbestuurder Tess, wat onkant betrap word wanneer haar man aankondig dat hy verlief is op haar niggie en beste vriendin, Felicity. Sy keer terug Sydney toe en gaan woon by haar ma.

En laastens is daar die weduwee Rachel, wat steeds verpletter is deur die moord 20 jaar tevore op haar geliefde tienerdogter.

Die skakel tussen die vroue is meer geografies as iets anders. Rachel is die sekretaresse by die laerskool waar Cecilia se drie oulike dogters skoolgaan en waar Tess haar seun inskryf, en Rachel woon een van Cecilia se befaamde Tupperware-partytjies by.

Dit duur vir ewig voor Cecilia so ver kom om die brief oop te maak. Vir ewig! En met elke hoofstuk wat verbygaan, wil jy op haar skree dat sy dit asseblief tog net nou moet doen. Maar uiteindelik lees sy dit wanneer sy begin agterkom iets skeel met haar huwelik, en dan val haar wêreld uitmekaar. Die vroue se onderlinge stories begin mettertyd bymekaar aansluit en dit hou jou geboei. Ek het probeer om dit op een slag deur te lees. Dis ’n bietjie van ’n moord-speurverhaal en regtig donker vir chick-lit, al word dit plek-plek te soetsappig. Die einde was net ’n bietjie te netjies na my smaak, maar ná ’n bietjie nadenke het ek besef dit is die beste einde moontlik. Dis die perfekte storieboek vir die vakansie (en kyk hoe oulik is die voorblad!). The Ship of Brides

Ships of brides

Skrywer Jojo Moyes

Uitgewer

Prys $11 by Book Depository (Sover ons kon agterkom, is die boek tans in SA uitverkoop. Book Depository pos gratis na SA toe.)

Punte 3 uit 5

Ek het die Britse skrywer Jojo Moyes eers verlede jaar ontdek toe ek die wonderlike Me Before You gelees het (oor ’n vrou wat ’n kwadruplegiese man versorg). Ek het daarna dadelik een van haar topverkopers gaan lees, The Girl You Left Behind (’n skildery verbind die verhale van Liv vandag en Sophie in die besette Frankryk van  1916).

Moyes se boeke is nie te lig of  laf nie, en die stories is goed deurdink. Toe ek dus lus was vir nog ’n chick-lit-boek, het ek haar gekies omdat ek heelparty van haar vroeëre boeke afgelaai het en nog wou deurwerk.

Ná The Husband’s Secret was ek lus vir The Ship of Brides omdat dit ook ’n Australiese tema het. Vier Australiese oorlogbruide reis saam met honderde ander vroue ná die Tweede Wêreldoorlog op ’n oorlogskip Engeland toe om met hul mans herenig te word. Die praktiese verpleegster Frances; ’n swanger, nugter plaasmeisie Margaret; die jong en naïewe Jean en die sosiale vlinder en snob Avice deel almal ’n slaapkajuit.

Hulle het uiteenlopende persoonlikhede én koester ’n paar geheime, en dit lei tot vriendskappe, botsings en dramatiese oomblikke tydens die ses weke lange vaart. Die reis is ook gelaai met emosie want party is bang vir die “wil-jou-nie-hier-hê-nie-moenie-kom-nie”-telegramme wat party bruide van hul mans ontvang het. Dis die Jojo Moyes-boek wat die naaste aan ware chick-lit is en dit was nie my gunsteling deur haar nie, maar ek het dit steeds geniet. Dis ook gegrond op ’n ware verhaal en ’n deel van die geskiedenis waarvan ek nie geweet het nie. Ek moes natuurlik agterna die stories van die werklike bruide van destyds gaan google en dit het my meer van die boek laat hou. Lees gerus ook

collage Me Before You (R144 by Kalahari) The Girl You Left Behind (R125 by Kalahari)  -Natalie Cavernelis

Natalie Cavernelis Natalie Cavernelis is blogredakteur en eindredakteur: handelsmerkuitbreidings by Huisgenoot se sustertydskrif, YOU.  Sy is ’n oudredakteur van die TV-tydskrif TV Plus, is verslaaf aan haar gesin, lees, fliek en TV, en het ’n spesiale belangstelling in die populêre kultuur. Sy skryf ook ons TV-blog. Volg haar op twitter @NatalieCav.