Drama-komedie.

Met Kate Hudson, Lucy Punch en Peter Dinklage.

Regisseur: Nicole Kassell.

13S.

Begin op 13 Januarie.

Ons dink: 2/5

Waaroor gaan dit?

’n Borrelende en geesdriftige meisie ontdek op ’n vroeë ouderdom sy het kanker. Sy weier egter dat dit haar onderkry en pak die lewe kaalhand aan.

Wie sal hiervan hou?

Sepieverslaafdes wat daarvan hou dat emosie melodramaties uitgebeeld word met borrelende laggies en wroegende blikke tussendeur.

Kate Hudson het dié soort rolle vervolmaak: die giggelende sakevrou (wat nes haar ma, Goldie Hawn, optree) wat ’n vertrek verlig as sy instap, maar wie se gemoed donker van troebelheid is.

Die melodrama hou jou stewig in jou gemaksone. Sodra die emosie ’n bietjie te swaar aangeplak word, soos op ’n oorgegrimeerde vrou, kom daar ’n voorspelbare ligte oomblik of ’n vleispaleis, in dié gevalGael García Bernal, wat maar bra ontuis in hierdie stukkie kommersiële vermaak lyk.

Die rolprent laat ’n mens aan ’n verkleurmannetjie op ’n Smartieboks dink. Elke dan en wan verander die toonaard, styl en emosie om die gehoor op hul gemak te stel en te laat reageer.

Dit is jammer dat so ’n ernstige en tragiese storie so oppervlakkig en by tye lighartig kunsmatig benader word, want dit skep ’n heeltemal verkeerde indruk.

Maar so vroeg in die jaar is jy dalk nie lus om al bedruk te raak nie, hoewel snesies se verkope in die voorportaal die hoogte sal inskiet.

Dis ook jammer dat me. Hudson se vertolkings (en rolle) deesdae almal so dieselfde is. ’n Mens mis haar Almost Famous-triomf!

Soortgelyke flieks

50/50, Soul Surfer, Love Story

Springmieliefeite

* Kate is Goldie Hawn en Bill Hudson se dogter. Sy het pas ’n onvleiende biografie oor haar ma geskryf.

* Kate het haar debuut in televisie se Party of Five gemaak voor sy silwerdoek toe is.

Volg Huisgenoot op Twitter.